Briewe: “Word die ATKV nou TKV?” – Dr. Pieter Mulder

Briewe: “Word die ATKV nou TKV?” – Dr. Pieter Mulder
Share This:

Brief deur: Dr. Pieter Mulder | Vryheidsfront Plus

 

Word die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) nou net ‘n Taal en Kultuurvereniging (TKV) is die eerste reaksie op die aankondigings van die nuwe uitvoerende hoof van die organisasie, me. Deidre le Hanie?

 

Sy het aangekondig dat die ATKV ‘n wyer gemeenskap as net die Afrikaanse gemeenskap wil bereik deur ook ander tale in te sluit. Daar is niks mee verkeerd om na ander taalgroepe in Suid-Afrika uit te reik nie, maar dit kan die hoofbesigheid van die ATKV verander. Vir 87 jaar was die ATKV ‘n kultuurtuiste vir Afrikaans.

 

Vir baie jare het die regering en die staat die Afrikaanse taal en kultuurlewe beskerm en ondersteun. Daarom was dit nie nodig dat Afrikaanse burgerlike organisasies onnodig tyd en geld aan hierdie funksies afstaan nie. Sedert 1994 is dit nie meer die geval nie. Lede van die Afrikaanse gemeenskap het op ‘n vrywillige basis organisasies soos die ATKV, FAK, Solidariteit, VF Plus, AfriForum, ens. geldelik en andersins ondersteun om hierdie vakuum vir hulle te vul. Die ATKV het sedert 1994 ‘n groot en belangrike rol hierin gespeel, veral om alle Afrikaanssprekendes by sy aktiwiteite te betrek.

 

Tans is daar deurlopende regeringsdruk op Afrikaans. Afrikaanse kultuur- en burgerlike organisasies ervaar ook ‘n berekende finansiële afskaling deur die regering van alles wat met Afrikaans verbind word. Die Departement van Kuns- en Kultuur se begroting en projekte wys hoe daar na alle ander groepe uitgereik word maar hoe die Afrikaanse taalgemeenskap afgeskeep word. Die Afrikaanse taalgemeenskap sal daarom armer wees om die ATKV, of enige soortgelyke organisasie in hierdie tyd te verloor.

 

Die geskiedenis het bewys dat as ‘n organisasie probeer om alles vir almal te wees, dit dikwels in die middel deurval en eindig deur niks vir niemand te wees nie. As ‘n ATKV-lid vir dekades sal ek, saam met duisende ander Afrikaanse ATKV-lede, die praktiese uitvoering van die beoogde projekte dophou voor ‘n finale gevolgtrekking oor die “nuwe” ATKV en die nuwe uitvoerende hoof gemaak sal kan word.

 

 

Deel Die Artikel:
Facebooktwittergoogle_pluslinkedin

Comments

comments

Related posts

Leave a Comment