VF Plus na UNPO oor situasie is Suid-Afrika!

VF Plus na UNPO oor situasie is Suid-Afrika!
Share This:

Vryheidsfront Plus-parlementslid, Dr. Pieter Mulder, het die naweek ‘n vergadering van die Onverteenwoordigde Nasies en Volkere (UNPO) in Brussel België bygewoon.

 

UNPO se doelstellings as organisasie is die beskerming en bevordering van minderhede en inheemse groepe se regte. Daarom beywer die organisasie hom vir die bevordering van groep- en minderheidsregte asook vir selfbeskikking.

 

By die vergadering in Brussel was onder meer vir UNPO se kongres aan die einde van Junie in Edinburg by die Skotse parlement beplan. Die Skotte eis tans ‘n referendum om meer outonomie en selfbeskikking vir Skotland vanaf Brittanje te verkry.

 

Volgens dr. Mulder het die VF Plus nog nooit beweer om namens alle Afrikaners by UNPO te praat soos sommige kritici beweer nie.

 

“Waar UNPO ‘n organisasie vir minderheids- en groepsregte asook selfbeskikking is, verteenwoordig ons die 170 000 ondersteuners wat by vorige verkiesings ons so ‘n mandaat gegee het. Dit verteenwoordig wel Loftus Versveld vier keer volgepak, wat meer is as wat meeste kritici kan sê,” volgens Mulder.

 

“Watter ander politieke party in die parlement is tans bereid is om in die buiteland die situasie van Afrikaanse universiteite en skole, plaasmoorde, regstellende aksie, kwotas en die rassistiese dubbele standaarde wat telkens in Suid-Afrika geld, te stel?” het dr. Mulder gevra.

 

In 2013 het die VF Plus saam met UNPO ‘n konferensie oor minderheidsregte in die Suid-Afrikaanse parlement aangebied. Die geleentheid is gebruik om UNPO se dagbestuur en hoofsekretaris volledig oor Suid-Afrika in te lig.

 

By die konferensie het dr. Mulder en sprekers soos prof Sitwala Imenda namens die Barotse minderheid in Zambië, Zenzile Khoisan namens die eerste nasies, Peter Marais namens die Bruinbemagtigingsbeweging, Jeroen Zandberg namens die Rehoboth Basters en ander sprekers opgetree.

 

Dr. Mulder is by die vorige kongres van UNPO op die presidensie van die organisasie verkies. Die presidensie tree op as ‘n dagbestuur tussen UNPO-kongresse. Die presidensie is ‘n liggaam wat bestaan uit die president en vise-president en nege ander UNPO-lede. Naas dr. Mulder van die VF Plus is leiers van onder andere die Iranse Kurde, leiers van Taiwan, van Tibet, van die Oromo in Afrika en van Wes-Papua ook op die presidensie.

 

Deel Die Artikel:
Facebooktwittergoogle_pluslinkedin

Comments

comments

Related posts