‘Orania en die K-woord!’ – Meyer Le Roux

‘Orania en die K-woord!’ – Meyer Le Roux
Share This:

Geskryf deur: Meyer Le Roux | Orania Blog

 

En dit, dames en here, is hoe mens die publiek om die bos van onkunde lei sodat hulle jou skryfstuk lees. Die K-woord waarna ek verwys, is natuurlik Katalonië. Ek glo vas dat dit baie belangrik is om uit die foute en suksesse van die verlede te leer. Op die oomblik word daar stilletjies geskiedenis in Spanje gemaak. Gepraat van geskiedenis, kom ons kyk baie vlugtig na Katalonië s’n:

 

Katalonië het in die 15de eeu deel van Spanje geword toe Koning Ferdinand van Aragon en Koningin Isabella van Kastilië getrou het en hulle onderskeie koninkryke saamgesmelt het. Katalonië het egter steeds baie van hulle individuele kultuur en gebruike behou. Na die Spaanse Oorlog van Opvolging van 1702 tot 1714 het Katalonië, onder Felipe V, gesukkel om hulle kultuur en taal uit te leef as gevolg van onderdrukking. In 1931, toe Spanje ’n republiek geword het, was daar ’n kortstondige opflikkering in Katalonië se onafhanklike identiteit, maar kort daarna het die Spaanse Burgeroorlog uitgebreek en met die oorname van die Fascistiese Diktator, Francisco Franco is groot beperkings op die onafhanklike gevoel van Katalonië, sowel as hulle taal geplaas. Met die oorgang na demokrasie na Franco se dood in 1975 het Katalonië een van Spanje se 17 semi-outonome streke geword. Die Kataloniese strewe om onafhanklik te wees, het gedurende al hierdie gebeure nooit verdwyn nie, maar die onlangse Europese ekonomiese krisis het hierdie strewe weer sterk laat opvlam. Dis belangrik om hier te sê dat Katalonië nie soseer anti-EU is nie, maar eerder anti-Spanje. Pro-onafhanklikheid Kataloniërs meen hulle spandeer te veel aan belasting en kry te min voordele terug.

 

Tans woon 7.5 miljoen mense in Katalonië. Dit is 16% van Spanje se bevolking. Dit is ook Spanje se rykste streek al beslaan dit slegs 6.3% van Spanje se totale grondgebied. 20% van Spanje se inkomste uit belasting kom van Katalonië en die streek verteenwoordig 20 tot 25% van Spanje se uitvoere.

 

Kataloniërs het op 1 Oktober ’n simboliese referendum oor hulle onafhanklikheid gehou. Dit word simbolies genoem omdat die Spaanse Konstitusionele Hof dit onder artikel 155 onwettig verklaar het. Dit sal dus meer ’n weergee van mening wees as enigiets anders. Tog het die Spaanse regering beslag gelê op stembriewe en pamflette. Hulle het webblaaie gesluit en vreedsame betogers met geweld uitmekaar gedryf. Daar is ook lasbriewe uitgereik vir 37 Kataloniese burgemeesters.

 

Dis interessant om hier te noem dat die Koerde in 2005 ook so ’n simboliese referendum gehou het. Hulle het later, in 2017, reg gekry om ‘n bindende referendum te hou waarin Irakse Koerde oorweldigend vir onafhanklikheid gestem het.

 

So kom ons kyk waarom die Spaanse regering so streng optree teen ’n referendum wat volgens my slegs op vryheid van spraak neerkom. My mening is dat dit oor daai sinnetjie gaan drie paragrawe boontoe; “20% van Spanje se inkomste uit belasting kom van Katalonië en die streek verteenwoordig 20 tot 25% van Spanje se uitvoere”. Spanje kan dit bloot nie bekostig om Katalonië te verloor nie.

 

Vir Afrikaners wat steeds ’n massiewe deel van die belastinggaarder se loon betaal, behoort hierdie feit merkwaardig te wees. As mens die hipotese aanvaar (en dit is slegs ’n hipotese) dat Orania eendag onafhanklik verklaar wil word, gaan dit belangrik wees om uit die geskiedenis wat nou gemaak word te leer. As die ondenkbare in hierdie land uitbreek, is dit glad nie vêrgesog om te dink dat groot groepe Afrikaners na onafhanklike state sal vlug nie. En hulle gaan hulle Bitcoins, Krugerrande en kennis saam met hulle neem. Ek wonder hoe ons regering met hulle oënskynlik selektiewe afkeur vir alles wat Europees is hierop sal reageer. Dan kry mens mos altyd hier die lukrake hippie wat glo die fasciste by die VN sal ingryp in so ’n geval. Wel, Sneeuvlokkie, die VN het nog nie een woord gerep oor die menseregtevergrype in Katalonië nie. Om te dink dat hulle ’n vinger sal lig is soos om te glo dat slange ’n voorliefde het vir konsertina speel. Ironies dat ek nou ’n Marxis moet aanhaal om ’n punt teen Marxiste te maak, maar Leon Trotsky het per geleentheid geskryf: “You may not be interested in war, but war is interested in you”.

 

Hierdie tendens oor die water om as ’n kultuur jouself te wil regeer en die wette en strukture wat jou samelewing reguleer self te maak, is iets wat nie net deur Brexit en die toenemende teenkanting vir die EU geëggo word nie. Groot dele van die burgery van die Veneto-streek in Italië, Suid-Tirol en Vlaandere in België wil dieselfde paadjie as Katalonië stap. Die Baske (ook in Spanje) wil ook afstig. Ek glo hulle sit grootoog en wag om te sien wat in Katalonië gaan gebeur. Dit is dus nie net hele nasies wat uit globale verenigings wil tree nie, maar ook klein groepies mense wat hulle nie meer gelukkig is met hulle toestande is nie.

 

Joernaliste hou daarvan om die term “melting pot of cultures” te gebruik as hulle berig oor plekke waar baie mense uit verskillende dele van die wêreld saam is. Ek het nie ’n probleem met mense wat in ’n plek wil bly wat so ’n smeltkroes is nie. Dit klink vreeslik romanties, maar gewoonlik as jy iets smelt word dit ’n homogene massa. Dit bly egter hulle keuse. Al wat ek wil hê is dat mense wat in ’n onafhanklike gebied, midde hul eie kultuur wil woon toegelaat word om so te maak. Waarvoor is die opponente van Orania bang?

 

Miljoene mense is al in oorloë dood omdat heersers mense blindelings wil forseer om oor die weg te kom.

 

Diegene wat nie in die multikulturele smeltkroes wil brand nie word dikwels afgemaak, deur diegene wat hulle behoefte nie begryp nie, as agterlike rassiste wat elke Woensdagoggend 07:00, Das Panzerlied sing en om hulle huise goose-step met ’n swart spinnekop op ’n rooi vlag in die hand. As jy al ooit in Orania was, is dít duidelik bloot ’n mite, wat die lefties onderdeur hulle daggawalms uiter om hulle kief te laat klink voor hulle vegetariese maatjies. Mense se strewe om onder die gulsige idiote wat Suid-Afrika regeer uit te kom, is kwalik ’n rede om soos ’n Jack Russel agter ’n draad teenoor hulle te kere te gaan.

 

Ek wag in spanning op ’n klomp kwaai e-posse in reaksie op my mening. Enige standpunt wat verskil van die linkse agenda is mos haatspraak. Die enigste punt wat ek eintlik met hierdie ellelange relaas wil maak is die volgende: Ons reg(s)denkendes moet moeite doen om kennis in te win van wat elders in die wêreld gebeur en hoop dit gaan goed by ons kulturele bure in Orania. Ons gaan dalk binnekort moet gaan suiker leen.

 

Deel Die Artikel:
Facebooktwittergoogle_pluslinkedin

Comments

comments

Related posts