‘n Derde van Afrikaanse skole uitgewis sedert 2002!

‘n Derde van Afrikaanse skole uitgewis sedert 2002!
Share This:

Enkelmedium-Afrikaanse skole het onder die ANC-regering sedert 2002 met byna ‘n derde verminder wat as bewys dien dat die aanslag teen Afrikaans ook op basiese onderwysvlak hewig is, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus (VF Plus) se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.

 

In antwoord op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gesê sy het nie syfers sedert 1994 tot haar beskikking nie, maar dat die aantal Afrikaanse skole afgeneem het vanaf 1814 in 2002, tot slegs 1234 in 2016.

 

As rede hiervoor sê die minister dit is weens ‘n ‘groter aanvraag’ van leerlinge na Engels en ‘n ‘afname’ in die aantal Afrikaanse leerlinge by skole.

 

Adv. Alberts sê hy vind die minister se antwoorde verstommend en die VF Plus se waarneming is allermins dat daar ‘n afname in die aantal Afrikaanse leerders is, maar dat daar eerder ‘n doelbewuste en stelselmatige uitwissing van Afrikaans in skole plaasvind.

 

“Daar is ‘n aggressiewe houding teenoor Afrikaans waar skole gedwing word om andertalige leerlinge in te neem waarna die proses van dubbelmedium en later totale verengelsing vinnig volg. ‘n Groot rede hiervoor is omdat daar nie nuwe skole gebou word nie en baie bestaande skole verwaarloos en in onbruik verval het.

 

“Gauteng se LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, se ongenaakbare stryd teen Afrikaanse skole dien as bewys hiervan.

 

“Ek sal gewis opvolgvrae aan die minister stel om te hoor op grond waarvan haar aannames berus. Dit behoort van objektiewe, wetenskaplike studies te kom. Ek sal haar ook weer konfronteer oor die beskerming van Afrikaanse skole en die skep van skole vir ander moedertale om Afrikaans sodoende te beskerm,” sê adv. Alberts.

 

Vrae en antwoorde volg:

Deel Die Artikel:
Facebooktwittergoogle_pluslinkedin

Comments

comments

Related posts