Krugersdorp Wildtuin wanbestuur tot ashoop-status!

Krugersdorp Wildtuin wanbestuur tot ashoop-status!
Share This:

Na nog ‘n hewige brand in die Krugersdorp Wildtuin is die eens trotse landmerk van Krugersdorp verwoes tot ‘ashoop-status’, sê raadslid Amanda de Lange van die Vryheidsfront Plus.

 

Saterdagoggend het ‘n brand binne die wildtuin ontstaan waarna die nooddienste ontbied is. Mense wat die brand gesien het, het dadelik nader gehardloop en begin om die brand te blus.

 

Rdl. de Lange sê skade in die reservaat kon tot die minimum beperk gewees het as daar, soos deur die wet voorgeskryf, die nodige brandpaaie en voorbrande gemaak is.

 

Dit is nie die eerste keer dat die Krugersdorp Wildtuin brand nie. By ‘n vorige geleentheid het gedeeltes van die restaurant en wooneenhede groot brandskade opgedoen. Die hartseer gevolg van so groot brand is dat daar weer eens ‘n ernstige tekort aan weiding gaan wees. Die finansiële las om bykomende voer vir die wild te verskaf, is weer die munisipaliteit se verantwoordelikheid.”

 

Sy sê voorts die Rooimiere sekuriteitsmaatskappy is in totale beheer van die wildtuin.

 

“Ek onthou dat, nie lank gelede, het mense behoorlik tou gestaan om by die wildtuin in te kom terwyl akkommodasie maande vooruit vol bespreek was. Daar was gereeld feeste aangebied, 4×4-pretdae en die woonwapark was ‘n gewilde kampeerplek. Jy moes bespreek om plek in die restaurant te kry.

 

“Die Krugersdorp Wildtuin het gefloreer toe mnr. Dirk Brink en sy gesin die plek bestuur het. Soveel so, dat daar selfs ‘n TV-reeks in die Ngonyama Lion Lodge (plek van die leeus) verfilm is,” het sy gesê.

 

Volgens rdl. de Lange gaan die stadsraad se oorsigkomitee, waarvan sy die voorsitter is, ‘n volledige ondersoek na beweerde onreëlmatighede rondom die wildtuin doen.

 

Daar moet indringend na die kontrakte tussen die Rooimiere en die ANC-munisipaliteit gekyk word. Die VF Plus het die afgelope jare telkemale in die raadsittings gewaarsku teen die ongerymdhede, onvoldoende verslaggewing en algehele verval van die wildtuin.

 

“Daar is nie ag geslaan op ons waarskuwings nie en na die naweek se onbeheerde brande, is die Krugersdorp Wildtuin letterlik tot ashoop-status verbrand. Daar is niks meer om die publiek te bied nie en die lys van ANC-verwoesting, waarvan Bob van Reenen-sportstadium ook op die lys is, word al hoe langer,” het De Lange gesê.

 

Deel Die Artikel:
Facebooktwittergoogle_pluslinkedin

Comments

comments

Related posts

Leave a Comment